NEWSLETTER - NEWSLETTER - NEWSLETTER - NEWSLETTER- NEWSLETTER - NEWSLETTER - NEWSLETTE

Wat sê ander van Herman?

 “… die eerste Afrikaanse uitreiking sedert Chris Chameleon se Ek herhaal jou, wat my regop laat sit het en elke haar op my lyf ook. Musikaal is dit ‘n tour de force en tegnies uitstekend…. Groots” – DeKat

“ …‘n versamelstuk, en ‘n briljante album wat ‘is wat dit is’ “ – GetIt

“ Hy word beskou as een van die heel beste liedjieskrywers in die land en sy jongste album versterk dit net…. Dit is musiek vir die siel” – Rapport Tydskrif

“As jy vanjaar net een CD gaan koop, oorweeg dié een sterk. Die produksie is uitstekend. Dis regte musiek.” - Sarie

 “Die ‘Sting’ van Afrikaans” – Geraas

“Hier is ‘n CD wat nuwe weë vir Afrikaanse musiek baan.” – Keur

“Dis Afrikaans op sy mooiste” – Rooi Rose

 

Wie is Herman?

Herman is gebore in Klerksdorp maar het sy kinderjare deurgebring in die groen stad Pietermaritzburg.  Sy musiekloopbaan het vroeg begin en hy kon reeds musiek lees voor hy kon skryf.  Op skool het hy hom bepaal by klassieke musiek waar hy klarinet gespeel het, onder andere ook vir die Natalse Jeugorkes. 

Sy belangstelling in musiek het egter eers vlamgevat toe hy op universiteit die kitaarkoors onder lede gekry het en begin musiek skryf het.  As ‘n Tukkie ingenieursstudent was hy lid van die universiteitskoor, die groep Fortukssimo en die kabaretgroep Tukssedo. Hy was ook algehele wenner van die universiteit se Ligteliedjiefees met ‘n oorspronklike komposisie. Na voltooiing van sy universiteitsopleiding raak hy betrokke by verskeie musiekproduksies as kitaarspeler, musiekskrywer en sanger. Hy eindig vir twee agtereenvolgende jare as ‘n Crescendo finalis en neem sy solo vertoning Kaal na Aardklop 1998. In 1999 laat hy die Afrikaanse musiekgemeenskap regop sit met sy bydrae tot Geraas se Vuurdoop kompetisie, wat uiteindelik gelei het tot die maak van sy debuut CD. 

Sy debuut CD, bloot getiteld Herman van den Berg, word in 1999 genomineer vir ‘n South African Music Award en een van die songs Kruispad, behaal nommer een op KFM se top tien.  Die CD was bestempel as een wat nuwe weë baan vir Afrikaanse musiek en wat gekenmerk word deur buitengewone hoë kwaliteit. Dit is ‘n samestelling van musiek wat oor ‘n lang tydperk geskryf is en verteenwoordig ‘n verskeidenheid style soos hy die verskillende genrés in musiek ontdek het.

In 2002 word sy tweede CD Proe die aarde vrygestel, wat voortbou op sy tradisie van hoë gehalte Afrikaanse musiek maar verder die internasionale klank van sy musiek uitbou en sy styl versterk. Die musiek is vars, opwindend verwerk en liefhebbers van jazz, rock, akkoestiese kitaar en world music behoort aanklank te vind by die musiek. Hierdie CD is weereens vir ‘n South African Music Award genomineer.

Wat Herman as kunstenaar onderskei is dat al sy musiek oorspronklik is en dat alle verwerkings deur homself gedoen word.  Verder is sy lirieke gebasseer op persoonlike ervarings en spreek hy ook soms aktuele onderwerpe soos seksuele frustrasie en emigrerende vriende aan. Hy word ook bestempel as een van die beste toonsetters van Afrikaanse gedigte in die land.

Herman tree gereeld op by verskillende kunstefeeste en word onder andere ook by beide die Klein Karoo Nasionale Kunstefees en by Aardklop genooi om op die onderskeie hooffeeste op te tree.  Heelwat van sy musiek is ook al opgeneem en opgevoer deur ander musikante, o.a. Anna Davel, Matthys Roets, Alexa Strachan en Jannie Moolman.  Hy skryf ook musiek vir produskies bv. “Blootlê”, ‘n Afrikaanse kontemporêre musiekspel wat by Aardklop 2002 opgevoer was en die agtergrondmusiek vir die TV reeks “Binnelanders”.

Tydens die Volksbladfees in 2005 pak Herman ‘n produksie aan met Afrikaanse vertalings van Jacques Brel se chansons, vertaal deur prof. Bernard Odendaal en prof. Naomi Morgan van die Universiteit van die Oranje Vrystaat. Hierdie produksie maak opslae tot so ‘n mate dat dit genooi word na die Tinnenpot teater in Gent, Belgie en uiteindelik ook uitvloei in die skep van ‘n Brel in Afrikaans CD wat in 2007 uirgereik word. Hierdie CD is ook uitgereik in die Benelux lande onder die vaandel van die Tussen Kontinente label. ‘n Opvolgproduksie het ook voortegespruit uit die Brel projek en is weereens by verskeie venues in die Benelux lande opgevoer in 2007.

In 2008 pak Herman ‘n nuwe CD aan met die title Dit is wat dit is. Met hierdie album het hy weereens ‘n vars inslag gelewer in Afrikaanse musiek. Die deurlopende tema van die CD is nietigheid - ‘n tema wat strek van die weerloosheid van kinders hê, die oomblik van broosheid in jou vriend se oë tot die onbeperkte gulsigheid waarmee ons mekaar en ons omgewing verslind. Hierdie tema word egter met ‘n nostalgiese en sensitiewe benadering gehanteer. Musikaal word daar van heelwat interessante instrumentasie gebruik gemaak, heelwat deur Herman self gespeel. Dit is veral die instrumentase en verwerkings wat dan ook hoë lof ontvang, soveel só dat die musiek deur die pers beskryf is as ‘n Tour de Force. Die album is by Herman se huis in Johannesburg opgeneem en hy het self ook die verwerkings en opnames behartig.

Vir musikale inspirasie luister Herman na Dire Straits, Sting, Dave Matthews, Janis Ian, Shawn Colvin, Sheryl Crow, Counting Crows, Eric Clapton, Radiohead, Muse, Joan Osborne en Beethoven.

Benewens Herman se passie vir musiek is hy ook ‘n kranige en bekroonde fotograaf en sy aanvoeling vir die visuele vind vastrapplek in sy verfrissende gebruik van beelde in sy lirieke.  Herman woon saam met sy vrou Seugnet in Johannesburg en hulle het ‘n seun Quinn, en dogters Philippa en Eugenie.
 

 

 

 

 

 

 

 

The Darling Health & Sports Center
Above: A link to our new website. Go take a look!



 

 

www.thedarlingtrust.org - thedarlingtrust.blogpost.com - info@thedarlingtrust.org - +27 (0)22 492 3384 -
 
© The Darling Trust