“My man, Jacques Brel”
Kabaret met
Herman van den Berg, Matthys Maree en Naòmi Morgan
Die produksie “My man, Jacques Brel”, waarmee Herman van den Berg en vriende in Julie 2005 tydens die Volksblad-kunstefees in Bloemfontein gedebuteer het, het Suid-Afrikaanse gehore intussen oral begeester oor Brel se liedkuns.
Dit is byvoorbeeld in die Burger as een van die hoogtepunte van Woordfees 2006 te Stellenbosch aangepys. Die CD herman van den berg sing brel in afrikaans wat op hierdie kabaretstuk gebaseer is (ook in die Laaglande uitgegee onder die titel Herman van den Berg. Brel in Afrikaans), het hoë lof by kritici ingeoes. Onder meer is dit as “’n verrassende literêre juweeltjie van Afrikaanse Brel-poësie” bestempel, en as “die mees akkurate vertalings van die grote Brel wat te kry is”. ’n Landgenoot van die sowat dertig jaar gelede gestorwe Brel, die geliefde Wes-Vlaamse sanger Willem Vermandere, het laat weet dat die CD niks minder as “intrigerend mooi” is nie.
In Junie 2007 is dié Brel-CD deur Huisgenoot aangewys as Afrikaanse CD van die maand, terwyl die dagblad Die Burger dieselfde CD aangewys het as een van die 10 beste CDs van 2007.
Naòmi Morgan en Bernard Odendaal, van die Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans aan die Vrystaatse Universiteit, het vir hierdie produksie ’n dosyn van Brel se bekendste liedere in Afrikaans vertaal sodat dit volkome singbaar is, en ’n vertelteks daaromheen gevleg om dit in ’n kabaretstuk te omskep. Morgan, ’n Brel-kenner, tree in die produksie as Brel se steeds lewende vrou Miche op.
Die trefkrag van die produksie is voorts geleë in sanger Herman van den Berg en pianis Matthys Maree se gevoelige vertolkings van die waarlik digterlike, roerende liedere.
Die drie ander albums van Van den Berg tot dusver, Herman van den Berg, Proe die aarde en Dit is wat dit is, bewys sy uitsonderlike talente as liedskrywer, toonsetter en vertolker. Aldrie CDs is benoem vir “South African Music Awards”. Van den Berg het onder meer ook die stemmingsmusiek geskryf vir die reeks “Binnelanders” wat op MNet te sien is.
Matthys Maree, ’n gesogte begeleier by Suid-Afrikaanse sangers, het die musiekverwerkings gedoen. Hy het, naas eie instumentale albums, saam met ’n hele paar bekende Afrikaanse kunstenaars gewerk (Mauritz Lotz, Anna Davel, Mathys Roets, om net ’n paar te noem) en die musiekverwerkings vir hul CDs en produksies gedoen (waaronder die SAMA-wenner van Anna Davel, Godinne op die grondpad). Een van sy mees onlangse prestasies is die vervaardiging van die album Afri-Frans, waarop ’n aantal van die heel bekendste Afrikaanse liedjies in Frans vertolk word (vertalings deur Naòmi Morgan).
Die volgende Brel-liedere sal te hoor wees in die produksie:
- Die grysaards (Les vieux)
- Mathilde
- Moenie uitmaak nie (Ne me quitte pas)
- Marieke
- My lae land (Le plat pays)
- Vlamingvrou (Les Flamandes)
- Amsterdam
- Drinklied (La bière)
- Die sterwende (Le moribond)
- Jojo
- Die lied van die ou minnaars (La chanson des vieux amants)
- Om met liefde alleen (Quand on n’a que l’amour)
|